Vryheid in Afrikaans by Diana Ferrus

Vryheid

As Vryheid beteken: hou jou mond
want ek het iets om te sê

As Vryheid beteken: jy agter tralies
want dan hoef ons nie bang te wees
omdat jy anders is en (anders) doen

As Vryheid beteken: ‘n eensydige bepaling
van die dag van more deur toe te laat
dat vandag se dag ‘n bietjie minder dag is

As Vryheid beteken: die deur sluit
om vrylik na die skerm te kyk
na dit wat liewers vermy moes word

As Vryheid beteken: ongestoord rustig slaap
omdat ander se stem
moedswillig ontneem is

As Vryheid beteken: om te eet wat en wanneer jy wil
maar om die skille In die koerante te laat val
waar die honger verswyg word

As Vryheid beteken: nie hoef te weet
wat my vry gemaak het, my vry hou,
my in Vryheid elke dag gevange neem

As Vryheid beteken: op die ander wag
om my te bevry van die vrese waarop ek
heiliglik vertrou

As Vryheid my gedagtes pleister
as Vryheid heen en weer, oral rondom
en in my waai
maar ontasbaar is vir jou

As Vryheid my beskerm teen jou idees
wat vir my te verskillend voorkom as myne

As Vryheid vandag vir my so vanselfsprekend is
en jy nie weet wat dit beteken

Dan is Vryheid munt vir my
en ‘n onthofing vir jou
Dan is Vryheid windmaak en eiemagtig

Maar miskien laat dit my toe
om met wedersydse goeddunke natuurlik
‘n gedeelte van my oorvloedige Vryheid
tydelik of vir ‘n langer tydsduurte af te staan
om jou van my verstikkende Vryheid te bevry.

Marion Bloem

Translation in Afrikaans by Diana Ferrus
From original poem “Vrijheid” (Freedom) by Marion Bloem