Vryheid in Afrikaans by Piet Venter

Vryheid

As Vryheid beteken hou jou mond
want ek het iets om te sê

As Vryheid beteken dat jy agter tralies is, want
dan hoef ons nie bang te wees
vir jou andersheid en jou anderse doen en late nie

As Vryheid beteken dat môre
bepaal word deur vandag ‘n bietjie
minder dag te laat wees

As Vryheid beteken: om die deure te sluit
en om vrylik op die TV skerm te kyk
na wat veilig uit die buurt gehou moet word

As Vryheid beteken dat jy steeds rustig kan slaap
omdat ander mense se stemme kwaadwilliglik stilgemaak is

As Vryheid beteken: eet wat en wanneer jy wil
maar dat jy die skille laat val in die koerante
waar die honger verswyg word

As Vryheid beteken: om net te hoef te weet wat my
vrygemaak het, wat my vry hou; my
elke dag in vryheid gevange neem

As Vryheid beteken: wag tot die ander
my bevry van angste waarop ek so
sterk vertrou

As Vryheid my gedagtes pleister
as Vryheid om my heen, oral en in my waai,
maar vir jou onbereikbaar bly

As Vryheid my beskerm
teen jou idees wat vir my te ánders is

As Vryheid vir my vandag so
vanselfsprekend lyk, en jy nie
weet wat dit beteken nie

Dan is Vryheid munt vir my
en kop-af vir jou
dan is Vryheid leeg en arbitrêr

Maar miskien sal dit my wel toelaat
om iets van my aansienlike vryheid – met
wedersydse goeddunke, natuurlik –
tydelik of vir ‘n langer tyd
af te staan om jou
van my verstikkende vryheid
te bevry

Translation in Afrikaans by Piet Venter
From original poem “Vrijheid” (Freedom) by Marion Bloem